TERWYL ‘n hele paar aandele in die elektroniese sektor van die Johannesburgse Aandelebeurs in die afgelope week sommer vir heelwat opwinding gesorg het, soos Usko, is daar steeds in hierdie afdeling van die mark ‘n paar aandele wat sonder goeie rede net nie soortgelyke sprankel toon nie. Een so ‘n aandeel is Softline, die inligtingstegnologie-groep, wat sy buiging net minder as ‘n jaar gelede op die beurs gemaak het. Dié groep kondig sy resultate vir die 12 maande tot einde vandeesmaand in April aan. Terselfdertyd sal die groep ook resultate vir die 13 maande tot einde Maart aankondig omdat Softline besluit het om sy jaareinde van einde Februarie na einde Maart te skuif om in ooreenstemming te kom met die swart beheerde plaaslik genoteerde “Hosken” Consolidated Investment-groep (HCI), wat Oktober verlede jaar ‘n belang van 25% in Softline verkry het. In samehang met die HCI-transaksie het Softline ook in Oktober verlede jaar ‘n belang van 60% in die Amerikaans genoteerde groep SVI Holdings bekom. SVI is ‘n gefokusde inligtingstegnologiemaatskappy wat spesialiseer in programmatuur, dienste en die opvoedkundige mark, met bedrywighede in onder meer Amerika, Australië en Brittanje.

Ten tyde van hierdie transaksie het SVI se aandele teen net minder as $2 stuk verhandel.

Intussen het die aandeel se prys tot sowat $4,25 stuk gestyg, wat beteken dat die waarde van Softline se belegging in hierdie vooraanstaande internasionale groep meer as verdubbel het in sowat vier maande. Dié stand van sake met sy buitelandse belegging word egter glad nie deur die plaaslike Softline-groep se aandeelprys weerspieël nie, want die prys staan tans op sowat 185c teenoor die 188c stuk waarteen dit verlede jaar Oktober, ten tyde van die aankondiging van die transaksie, verhandel het. En daar bestaan min twyfel dat sowat 35% van Softline se wins in die boekjaar tot einde vandeesmaand in buitelandse valuta (dollars) verdien sal word. Toe die groep sowat ‘n jaar gelede genoteer is, het hy geen buitelandse verdienste-bronne gehad nie. Die uitvoerende hoof van Soft~~line, mnr. Ivan Epstein, is vasbeslote dat die groep binne ‘n jaar sowat 50% van sy wins in die buiteland sal verdien. Daarbenewens het die transaksie met HCI reeds vir die groep in net sowat vier maande tot verskeie groot kontrakte gelei wat hy sonder hierdie swart-bemagtigingsvennoot nie sou kon deurhaak nie. Een van die sleutelfaktore bepalend in die sukses van enige gevorderde tegnologiemaatskappy is sy navorsings- en ontwikkelingsgeriewe. Softline beskik tans oor vyf sulke sentrums wêreldwyd, naamlik in Brittanje, Ierland, Australië, Johannesburg en Kaapstad.

Die groep het in die afgelope 12 maande ontwikkel in een met ‘n besonder groot blootstelling aan programmatuurontwikkeling en die eienaar van selfontwikkelde tegnologieë. Daarbenewens beskik Softline oor kontantbronne van meer as R100miljoen vir voortgesette toekomstige uitbreiding en ontwikkeling.

Die maatskappy is toenemend besig om sy inkomste op ‘n herhalende inkomstevloei te grond. Dat dié groep net ‘n jaar ná sy notering heelwat veranderings ondergaan het, blyk duidelik uit die feit dat hy ten tyde van sy notering sowat 70% van sy inkomste uit apparatuur-verspreiding en netwerkbedrywighede en sowat 30% uit programmatuur en opvoedkunde verdien het. Nou het die stand van sake net mooi omgeswaai, ofskoon dit nie beteken dat hy sy apparatuur- en netwerkbedrywighede juis afgeskaal het nie, maar eerder dat hy sy hoë winsmarge-bedrywighede in programmatuur en opvoedkundige pakkette wesenlik uitgebrei het. Die aandeel verhandel tans teen sowat 185c, wat hom op ‘n relatief lae historiese prys/verdienste-veelvoud van net 18,8 plaas, dieselfde as die heersende p/v-gemiddelde vir die elektroniese sektor. In markkringe word bespiegel dat die verdienste per aandeel vir die 12 maande tot einde vandeesmaand sowat 13c per aandeel kan beloop.

Teen sy huidige verhandelingsprys van 185c plaas dit Softline op ‘n toekomstige p/v van net 14,2 (dit is nou mits sy verdienste sowat 13c per aandeel bedra). Handhaaf die groep net sy huidige lae markaanslag, naamlik ‘n prys/verdienste-veelvoud van sowat 18,5, behoort die aandeel se prys tot minstens 240c te styg. Herwaardeer die mark egter hierdie opwindende inligtingstegnologiegroep veral op grond van sy sterk buitelandse betrokkenheid en sy p/v styg tot sowat 30, is hierdie aandeel sowat 400c werd.

Source: Rapport – Marlene Britz