KAAPSTAD. Die gemeenskaplike kurators van die IGI versekeringsmaatskappy het vandag ‘n finale versoek aan krediteure wat nog geen dividend ontvang het nie gerig om hulle hiervan in te lig voor 24 Augustus vanjaar. Die kurators het vroeër ses dividende van 104c verklaar aan krediteure en polishouers wat eise teen dié maatskappy ingestel het. Die kurators het gister gesê die Raad op Finansiële Dienste het ‘n skema van Hosken Consolidated Investments goedgekeur wat op 16 Augustus in werking gestel sal word. Hosken het ‘n aandeelhouding van 54% in IGI. Die skema van onderhandeling sal IGI se skuld vereffen en die kuratorskap ontslaan. Die maatskappy sal dan deur die aandeelhouers en die direksie beheer word. Alle krediteure van IGI sal eise teen dié maatskappy kan instel wanneer die plan goedgekeur en in werking gestel is. Die eise moet binne 60 dae van die ooreenkoms se finale datum na verwagting einde Augustus ingedien word by: JF Klopper, Hans Klopper Inc, Sandown Valley Singel 6, Sandown, Sandton. Die kurators het verder gesê die ses dividende is op verskeie maniere aan krediteure uitbetaal. Indien krediteure met IGI deur ‘n bank of makelaar onderhandel het, is tjeks aan die betrokke instansies oorhandig. Krediteure wat regstreeks met IGI onderhandel het, se tjeks is na adresse wat die maatskappy op rekord het gestuur. Krediteure wat in die bostaande kategorie val, moet so gou moontlik mev. Greeff by (011) 335-1130 skakel of skryf aan Posbus 8199, Johannesburg 2000. Hul volledige name, die toepaslike IGI polisnommers en eisnommers moet verstrek word.

Source: Die Burger