KAAPSTAD. Mettle, ‘n aksepbank wat tot Oktober verlede jaar as BFS Capital sake gedoen het, wil in Julie op die Johannesburgse Aandelebeurs noteer. Die groep verwag dat hy binne die volgende paar maande ‘n banklisensie sal kry wat hom in ‘n volwaardige aksepbank sal omskep. Die groep verrig ‘n wye reeks van aksepbankfunksies. Sy afdeling vir korporatiewe finansiering gee raad oor samesmeltings en oornames, kapitaalherstrukturering, die verkryging van kapitaal, noterings, asook die verkryging van waagkapitaal. Die afdeling vir gestruktureerde produkte ontwerp nuwe produkte vir maatskappye se kontantvloei, inkomste, boekhou, belasting en handelsreg. Volgens mnr. Johan Malherbe, ‘n direkteur van die groep, behels sy bedrywighede nie net die deurvoer van ‘n hele klomp transaksies en die verkryging van meer kliënte nie. “Ons neem dit verder deur die transaksies deurgaans vir die kliënt te bestuur. So is daar ‘n maatskappy waarvoor ons onlangs finansiering gevind het. Die transaksie is net meer as ‘n maand gelede gedoen en ons soek reeds na maniere om die transaksie goedkoper te herfinansier. Daar is gedurig nuwe geleenthede en metodes vir die beter strukturering van finansiering.” Die groep het reeds heelwat prima maatskappye op hul boeke en het onder meer die finansiering van Naspers se nuwe rolperse behartig. Daarby is hy ook betrokke by die finansiering en ontwikkeling van nuwe Naspers kantore in Auckland Park. Die maatskappy se spesialiteitstesourie-afdeling omskep afgeleide instrumente sodat dit aan spesifieke behoeftes voldoen. Die groep is in 1995 as Boland Financial Services gestig. Boland het ‘n aandeelhouding van 60% gehad, terwyl die bestuur, ‘n groep bankiers, rekenmeesters en prokureurs van gevestigde ondernemings die verskil van 40% opgeneem het. Mettle se huidige aandeelhouers is BOE en Hosken Consolidated Investment (elk 30%), en die bestuur (40%).

Source: Die Burger – Dirk de Vynck