OHANNESBURG. Mnr. Marcel Golding, voormalige hoofsekretaris van die National Union of Mineworkers (NUM) en ANC-LP, is aangestel as waarnemende uitvoerende hoof van e.tv nadat mnr. Jonathan Proctor bedank het. Dit volg op bewerings dat dié tweepersoonlikhede nie oor die weg kon kom nie. Golding het glo die hef in die hand, aangesien hy voorsitter is van die vakbondbeheerde beleggingsmaatskappy “Hosken” Consolidated Investments (HCI). Dit is die grootste aandeelhouer van Midi Korporasie, wat ‘n moedermaatskappy van e.tv is. Daar was onder meer die afgelope tyd berigte in die media dat Golding van Proctor en mnr. Richard Magau, die adjunk- uitvoerende hoofbeampte, probeer ontslae raak het. HCI het onder meer onlangs vir mnr. Richard van Wyk, voormalige direkteur van Redpepper Productions, aangestel as stasiebestuurder. Dít is gedoen sonder om Golding of Magau of vir Vula Communications, die ander belangrike aandeelhouer, hieroor in te lig. e.tv was nie gister bereid om kommentaar hieroor te lewer nie. Die gratis TV-kanaal het gister ‘n verklaring uitgereik waarin hulle Proctor se bedanking aanvaar en hom bedank vir die “sleutelrol wat hy gespeel het in die stigting van e.tv”.

Source: Volksblad