Golding `moet loop oor hy te veel geld verdien’ JAN DE LANGE JOHANNESBURG. Hy is tevrede met wat hy by die Mineworkers Investment Company bereik het, maar as sy tydgenote daar meen hy moet plek maak vir iemand anders, aanvaar hy dit, het mnr. Marcel Golding, stigter van die MIC wat deur sy mededirekteure gevra is om te bedank, gesê. Sover hy weet, raak dit nie sy posisie as voorsitter van Hosken Consolidated Investments en waarnemende uitvoerende hoof van Midi-TV nie, sê Golding. HCI se belangrikste bate is sy meerderheidsaandeel in Midi-TV, waarvan Golding die waarnemende uitvoerende hoof is. ‘n Aansoek om likwidasie van Midi-TV het gister in die Kaapse Hooggeregshof misluk. “Ek het die MIC gestig met die doel om ‘n bategrondslag vir mynwerkers op te bou en waarde toe te voeg. Sedert die stigting het die bates met R500 miljoen gegroei. Ek kan net hoop dat diegene wat in my plek aangestel word, ook sukses sal ondervind en goed na die maatskappy sal omsien,” het Golding gesê. Hy is te midde van spanning in die direksie gevra om te bedank. Invloedryke mense in vakbondkringe meen Golding en mnr. Johnny Copelyn van die SA Clothing & Textiles Workers Union (Sactwu), wat saam met Golding in 1996 beheer oorgeneem het van HCI, het te veel verdien uit hul betrokkenheid by die maatskappye. Hulle is verlede jaar kwaai gekritiseer in die vakbondtydskrif Labour Bulletin. Golding wou dit uit lojaliteit teenoor die National Union of Mineworkers nie bevestig nie, maar ander bronne het dit duidelik gemaak dat sy bedanking uit die direksie van die MIC uit hierdie ontevredenheid spruit. Mnr. Gwede Mantashe, voorsitter van die MIC, het gesê dit is belangrik dat die maatskappy nou nuwe direkteure aanstel “sodat hulle kan ontwikkel en leer uit die ervaring van die MIC en die maatskappy daarna tot nuwe hoogtepunte kan lei”. ——————————————————————————– Aanvullende Inligting ——————————————————————————– MAATSKAPPYE SAKEMANNE

Source: Die Burger – Jan de Lange