Hy is baie tevrede met wat hy by die Mineworkers Investment Company (MIC) bereik het, maar as sy tydgenote daar meen hy moet plek maak vir iemand anders, aanvaar hy dit so, het mnr. Marcel Golding, stigter van die MIC, wat deur sy mededirekteure gevra is om te bedank, gister gesê. Sover hy weet, raak dit nie sy pos as voorsitter van “Hosken” Consolidated Investments (HCI) en waarnemende uitvoerende hoof van Midi- TV nie, sê Golding. Die aandeelhouers van HCI het vroeg in November hul jaarvergadering gehou en hom as voorsitter herkies. HCI se belangrikste bate is sy meerderheidsaandeel in Midi TV, waarvan Golding die waarnemende uitvoerende hoof is. Wat Midi TV betref, het ‘n aansoek om likwidasie gister in die Kaapse hooggeregshof misluk. Sprocket Productions, ‘n verskaffer van Midi TV, het R5 miljoen van die maatskappy geëis en aansoek gedoen om voorlopige likwidasie van Midi, maar die aansoek is gister met koste van die hand gewys. ‘Ek het die MIC gestig met die doel om ‘n bategrondslag vir mynwerkers op te bou en waarde toe te voeg. Sedert die stigting het die bates met R500 miljoen gegroei. Ek kan maar net hoop dat diegene wat in my plek aangestel word, ook sukses sal ondervind en goed na die maatskappy sal omsien,” het Golding gister gesê. Hy is te midde van spanning in die direksie gevra om te bedank. Invloedryke mense in vakbondkringe meen dat Golding en Johnny Copelyn van die SA Clothing & Textiles Workers Union (Sactwu), wat saam met Golding in 1996 beheer oorgeneem het van HCI, heeltemal te veel geld verdien het uit hul betrokkenheid by die twee maatskappye. Hulle is verlede jaar kwaai gekritiseer in ‘n uitgawe van die vakbondtydskrif Labour Bulletin. Golding wou dit uit lojaliteit teenoor die National Union of Mineworkers (NUM) nie gister bevestig nie, maar ander ingeligtes het dit duidelik gemaak dat sy bedanking uit die direksie van die MIC uit hierdie ontevredenheid spruit. Mnr. Gwede Mantashe, voorsitter van die MIC, het gister gesê dit is belangrik dat die maatskappy nuwe direkteure aanstel “sodat hulle kan ontwikkel en leer uit die ervaring van die MIC en die maatskappy tot nuwe hoogtepunte kan lei”. Golding se opvolger sal vroeg aanstaande jaar aangewys word. Daar moet ook nuwe direkteure aangewys word in die plek van mnr. Selby Mayise, wat oorlede is, en mnr. Frans Mahlagu, wat bedank het.

Source: Volksblad – Jan de Lange