Rembrandt het in beginsel ‘n ooreenkoms gesluit om geld in die sukkelende televisiemaatskappy e.tv. te belê, is in die naweek berig.
Die TV-stasie se beherende aandeelhouer is Midi TV, wat op sy beurt deur die bemagtigingsgroep “Hosken” Consolidated Investments (HCI) beheer word.
Dit is nie duidelik hoe Rembrandt deel gaan hê aan e.tv.nie, aangesien die prokureurs van albei groepe nog nie die ooreenkoms gefinaliseer het nie.
Dit is nou mnr. Marcel Golding, hoof van HCI, wat die finansiële las van e.tv. se bemagtigingsvennote moet dra nadat dié nie hul verpligtinge kon nakom nie. Luidens ‘n berig in die Business Times het mnr. Johann Rupert, hoof van Rembrandt, bevestig dat ‘n ooreenkoms gesluit is. Hy wou nie nader besonderhede bekend maak nie.
Midi TV het in Desember goedkeuring ontvang van die Onafhanklike Uitsaai-owerheid (OUO) om ‘n nuwe beleggingsvoertuig, Sabido Investments, vir e.tv. te begin nadat die TV-stasie finansieel begin swaar kry het. Die doel hiermee is om e.tv. te herkapitaliseer.

Source: Volksblad