KAAPSTAD. Die minderheidsaandeelhouers in Midi Televisie, wat die onafhanklike televisiediens e.tv beheer, sal glo met ‘n belang van 2% in die maatskappy oorbly nadat Rembrandt sy belang in die televisiemaatskappy opgeneem het.

‘n Bron naby aan e.tv het gister gesê dat Rembrandt ‘n belang van sowat 26% vir ‘n bedrag naby aan R300 miljoen in Sabido Investments, wat die belange van Suid-Afrika se aandeelhouers in Midi TV sal huisves, sal opneem. Rembrandt het verlede maand aangekondig dat hy in beginsel ‘n ooreenkoms bereik het om in e.tv te belê. Geen verdere besonderhede is bekend gemaak nie. Die Onafhanklike Uitsaai-owerheid het in Desember goedkeuring aan Midi TV verleen om Sabido Investments te begin nadat e.tv finansieel begin swaarkry het. Die doel is om e.tv te herkapitaliseer, maar die OUO het daarop aangedring dat die lisensie-ooreenkoms bepaal dat e.tv onder die beheer van voorheen benadeelde groepe moet bly.

Sabido besit 80% van Midi, terwyl 20% deur Time Warner gehou word.

Die bemagtigingsgroep Hosken Consolidated Investments is die beherende aandeelhouer in Midi TV en moes die finansiële las van e.tv se bemagtigingsvennote dra wat nie hul verpligtings kon nakom nie.

Mnr. Marcel Golding, waarnemende hoof van e.tv en voorsitter van HCI, was nie vir kommentaar beskikbaar nie. Mnr. Quarish Patel, ‘n direkteur van e.tv, het gesê besonderhede sal later gegee word.

Source: Die Burger – Dirk de Vynck