Die beleggingsbeheergroep “Hosken” Consolidated Investments (HCI) het in sy boekjaar tot einde Maart sy netto batewaarde per aandeel met 70% van R5,67 tot R9,65 opgestoot, terwyl daar verskeie interessante verwikkelings by sy vernaamste beleggings plaasgevind het. Die groep se vernaamste belegging is ‘n belang van 5% in Vodacom wat in Januarie 1997 vir R390 miljoen gekoop is. Dié belegging word nou gewaardeer op R2,8 miljard. Vodacom het in die tydperk uitstekend vertoon en sy aantal kliënte tot meer as 3 miljoen opgestoot. Die groep se belegging in Midi TV, wat die gratistelevisiediens eTV bedryf, is in die tydperk geherstruktureer nadat 45% van die eTV se aandeelhouers nie voorskrifte nagekom het nie. Vervolgens besit HCI ‘n beherende belang van 52% in Midi TV. Ná die jaareinde het Rembrandt R280 miljoen indirek in Midi TV belê vir ‘n effektiewe belang van 26%. Midi TV het in die tydperk gesukkel en daar word voorsien dat hy oor die volgende twee jaar steeds wesenlike verliese sal ly. Bevredigende opbrengste word vir die daaropvolgende jare verwag. Die groep se wesensverlies het van 8,4c tot 21,9c toegeneem. Dit kan toegeskryf word aan die verlies van R86,9 miljoen (1999: R1,9 miljoen) wat uit verwante maatskappye, onder meer Midi TV, gely is. Nie-herhalende winste het R429 miljoen beloop. Dit spruit grootliks uit die verkoop van sy belang in Datatec.

Source: Volksblad