DIT gaan geen maklike taak wees om ‘n koper te kry vir die belang van 12% in Midi TV, die beheermaatskappy van e.tv, wat Warner Bros International Television (WBIT) wil verkoop nie. ‘n Reeks uiters ingewikkelde vereistes en bepalings oor bemagtiging en die beheer in mediagroepe in Suid-Afrika wat deur die reguleerders neergelê is, kan dit haas ontmoontlik maak vir enige Suid-Afrikaanse maatskappy om uiteindelik dié belang te koop. Die uiteindelike beheer oor dié tv-stasie behoort nie in die gedrang te kom nie, maar daar is aanduidings dat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Icasa) sal voorkeur gee aan kopers wat die bemagtigingsproses sal voortsit. WBIT se aankondiging dat hy sy belang in Midi gaan verkoop, kan boonop weer ‘n hele debat oor die buitelandse beheer van Suid-Afrikaanse mediabelange aan die gang sit. Buitelandse maatskappye soos WBIT is beperk tot ‘n belang van 20% in Suid-Afrikaanse mediamaatskappye. Juis hierdie beperking word aangegee as die rede waarom WBIT sy belang wil verkoop. Dit is bekend dat WBIT hom ná die samesmelting met American Online (AOL) toespits op maatskappye waarin hy ‘n beherende belang kan kry. Met die huidige regulasies in Suid-Afrika en die strewe om Midi en sy aandeelhouers as bemagtigingsgroepe te behou, is dit nie vir WBIT moontlik om ‘n beherende belang te kry nie. Die huidige beheerstruktuur van e.tv is besonder ingewikkeld. Midi TV is die eienaar van e.tv, en word beheer deur Sabido, wat ‘n belang van 88% in Midi het. Sabido se beheermaatskappy is die bemagtigingsgroep “Hosken” Consolidated Investments (HCI), waarin die Mineworkers Investment Company (MIC, die beleggingsarm van die National Union of Mineworkers) ‘n belang van 21% het. Die hele kwessie om die beheer van e.tv by bemagtigingsgroepe te behou, word verder vertroebel deur die gerugte dat MIC sy bande met HCI wil verbreek. Daar is moontlik drie Suid-Afrikaanse maatskappye wat kan belangstel in WBIT se belang in Midi, waarvan die waarde op tussen R120 miljoen en R180 miljoen geraam word. Twee wat sal voldoen aan die bemagtigingsvereistes is Johnnic Communications en New Africa Investments, maar hulle kan gekniehalter word deur die beperking van 20% op kruiseienaarskap tussen mediagroepe. Die ander kandidaat is Venfin, ‘n filiaal van die Rembrandt Groep, wat vroeër reeds ‘n belang in Midi probeer kry het. Dit is egter deur Icasa van die hand gewys omdat Midi eers sy uitsaailisensie sou moes verander. Daarná het Venfin ‘n lening van R280 miljoen aan Sabida toegestaan. Klaarblyklik is onderhandelinge aan die gang tussen Venfin en Midi om dié lening om te skakel in ‘n belang van 26%, maar dit sal die belang van swart aandeelhouers verwater.

Source: Volksblad – Adri van Zyl