KAAPSTAD. Hosken Consolidated Investments (HCI), wat belange in die telekommunikasie-, media- en finansiëledienstesektor het, het ‘n wesensverlies van R209 miljoen vir die boekjaar tot einde Maart gely. Die groep het verlede jaar in die ooreenstemmende tyd ‘n verlies van R81,4 miljoen gely. Terselfdertyd het HCI se wesensverdienste per aandeel van 21,9c verlede jaar tot 54,9c vanjaar toegeneem. Die maatskappy het ‘n bedryfsverlies van R11,7 miljoen gely, vergeleke met ‘n verlies van R2,4 miljoen in die vorige boekjaar. Volgens HCI het sy beleggings in die selfoonmaatskappy Vodacom en Midi-TV, beheermaatskappy van e.tv, redelik gevaar. Dit wil voorkom asof Warner Bros. se besluit om sy belang van 12% in e.tv op te sê nie ‘n wesenlike uitwerking op die groep se bedrywighede het nie. HCI het gesê dit is ‘n probleem om die regulatoriese kwessie insake e.tv se aandeelhouding op te los, hoewel HCI en die hoofaandeelhouers van e.tv daartoe verbind is om die kwessie met die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid op te los. Die televisiestasie sal na verwagting die volgende 12 maande tot 18 maande weer ‘n wins begin toon. HCI het gesê hy gaan voort om te belê in Online Gaming Systems wat in die lopende boekjaar ‘n verlies gely het, maar na verwagting volgende jaar winsgewend bedryf sal word.

Source: Die Burger – Hannatjie Jacobs