JOHANNESBURG. DIE Community Growth-effektetrust, wat belê in maatskappye wat na sy oordeel hul maatskaplike verantwoordelikheid nakom, het alle beleggings aan die bemagtigingsmaatskappy Hosken Consolidated Investments (HCI) onttrek. Volgens mnr. Frans Mahlangu, voorsitter van Unity wat dié effektetrust bedryf, is HCI een van die mees ongewenste beleggings. Die Mineworkers Investment Company (MIC), die beleggingsafdeling van die National Union of Mineworkers, het ‘n belang van 21% in HCI. Al voer hy geldige redes aan waarom die Community Growth-trust (CGF) nie meer in HCI belê nie, herinner dié stap tog aan die gerugte dat die MIC sy bande met HCI wil verbreek. Ander maatskappye wat deur dié trust as beleggings verwerp is, is Liberty, weens afdankings, asook Iscor. Mahlangu het gister gesê Iscor het nie sy betrekkinge met vakbonde en werknemers verbeter nie. Unity se pogings om met Mr. Price te beraadslaag oor voldoeningsvereistes het op niks uitgeloop nie, en dié maatskappy is verwerp as moontlike belegging. Nuworld is verwerp weens sy voorneme teen vennootskappe met swartbemagtigingsgroepe. Aplitec en Africa Media Entertainment is ook verwerp. Ander maatskappye wat nie aan sy beleggingskriteria voldoen nie, is Afriband, Altech, Aspen, Pharmacare, Comair, Hiveld, Medi-Clinic, Sentry en Sun International. Afgesien van dié uitsluitings, is daar nagenoeg 100 aandele waarin die CGF kan belê, teenoor net 20 in 1992. Die trust is tans in 44 aandele belê, waarvan die grootste beleggings in finansiële aandele (33,6%) is, gevolg deur nywerheidsaandele (32,9%), mynbou-hulpbronne(12,4%) en nie-mynbouhulpbronne wat 7,7% verteenwoordig. Daar is tans 13,4% van die geld wat hy bestuur in kontant. Die belang in nie-mynbouhulpbronne verteenwoordig die belegging in Sasol, wat die CGF se grootste enkele belegging is. Ander groot beleggings is in Stanbic, Billiton, Delta Electrical, Gencor, Metlife, Investec, Absa, SAB en BoE. Die afgelope jaar het dié trust ‘n opbrengs van 19,7% behaal, vergeleke met die opbrengs van 22,8% in die indeks vir alle aandele en die gemiddelde opbrengs van 14,3% van die 45 algemene effektetrusts. Unity se ander effektetrust, die Community Gilt Fund, het binne ‘n tydperk van ‘n jaar ‘n opbrengs van28,6% behaal teenoor die opbrengs van 32,3% wat die indeks vir alle aandele behaal het.

Source: Die Burger