DIE moontlikheid dat nog ‘n finansiële nisgroep gedenoteer gaan word, het gister toegeneem nadat “Hosken” Consolidated Investments (HCI) aangekondig het hy het ‘n meerderheidsbelang in Mettle verkry.  HCI het eergister ‘n bykomende belang van 38 483 442 aandele in Mettle verkry wat tesame met sy vorige aandeelhouding neerkom op ‘n meerderheidsbelang van 52,1%. HCI se onregstreekse aandeelhouding in Mettle beloop nou 283 007 671 aandele.  Volgens die vereistes van die Sekuriteitereguleringspaneel (SRP) moet ‘n verpligte aanbod nou aan minderheidsaandeelhouers gemaak word.  Die aanbod sal teen 50c per aandeel geskied. Mettle se aandeelprys het laas teen 49c verhandel. Sy hoogte- en laagtepunt vir die jaar beloop 75c en 40c.  Indien die aanbod aan minderhede deurgevoer word, sal Mettle waarskynlik gedenoteer word.  Mettle het aan die begin van verlede jaar ook besluit om te denoteer.  Heftige reaksie van sommige aandeelhouers, veral Investec en Ou Mutual, het daartoe gelei dat die denotering laat vaar is.  Mettle se bestuur was destyds bereid om 60c aan buite-aandeelhouers te bied. Veral Investec het sterk kapsie hierteen gemaak en gesê dat dié aanbod nie die werklike waarde van Mettle weerspieël nie.  Mnr. Gavin O’Connor, uitvoerende hoof van Mettle, het daarop ingestem om Mettle genoteer te hou met die hoop dat die aandeelprys teen die agtergrond van die negatiewe stemming jeens kleiner banke ‘n skerp styging sal toon. Dit het nie plaasgevind nie, sodat Mettle se bestuur ingestem het om ‘n meerderheidsbelang aan HCI af te staan.  O’Connor was nie gister beskikbaar vir kommentaar nie.  Volgens onbevestigde berigte het Investec as die groot verkoper van die 34 miljoen aandele aan HCI opgetree.

Source: Volksblad – Maarten Minaar