Softline-base klou aan uitkoop-plan KPMG sê hulle kan langtermyn-aandeelhouers skaad

Die direkteure van die rekeningkundige- en betaalstaat-programmatuurspesialis Softline hou voet by stuk oor hul planne om te denoteer teen ‘n aandele-aanbod van 130c.

Dit kom te midde van waarskuwings deur hul finansiële raadgewer KPMG dat die aanbod dalk “redelik” kan wees omdat dit ‘n wesenlike premie bied op die aandeelprys wat voor die aanbod geheers het, maar dat dit dalk onbillik kan wees teenoor langtermynbeleggers.

Die konsortium wat die aanbod doen, Fluxrab, bestaan uit Investec, mnr. Ivan Epstein, Softline se uitvoerende hoof, en die Softline-direkteure mnre. Steven Cohen, Alan Osrin, Robert Wilkie en Gerald Rubenstein. Ander lede is Ellerine Brothers Bpk., asook ‘n konsortium bestaande uit die South African Clothing and Textile Workers Union (Sactwu) en mnre. Jonathan Copelyn en Marcel Golding van “Hosken” Consolidated Investments, albei nie-uitvoerende direkteure van Softline.

Indien die transaksie goedgekeur word, sal Fluxrab R607 miljoen betaal, waarvan R228 miljoen gebruik sal word om ‘n lening te betaal wat Softline se Suid-Afrikaanse bedrywighede aan die moedermaatskappy verskuldig is. Die oorblywende R510 miljoen, waaronder kontant van R131 miljoen, sal aan die aandeelhouers uitgekeer word in die vorm van die 130c-dividend.

Softline het 392 miljoen uitgereikte aandele, waarvan die konsortium 15,36% hou.

Die konsortium voer aan dat die markstemming vir klein- en middelslagondernemings reeds geruime tyd ongunstig is en dat dit nie lyk of dit gou sal verbeter nie. Die konsortium sê ook die aanbod sal aan minderheidsaandeelhouers die geleentheid gee om hul aandele teen ‘n premie van 40% teenoor die markprys die afgelope 20 maande te verkoop.

Vuurwerk word verwag op die groep se jaarvergadering op 21 Julie.

Die konsortium sal nie oor die transaksie kan stem nie. Verskeie institusionele en individuele aandeelhouers het reeds hul ontevredenheid met die aanbod uitgespreek.

Ou Mutual Batebestuur (OMAM) was een van die eerste institusionele beleggers wat sy stem teen die beoogde transaksie laat hoor het.

Volgens mnr. Steve Minnaar, ‘n fondsbestuurder van Ou Mutual, is 130c ‘n optimistiese poging, nie goeie waarde nie en ook nie in die belang van aandeelhouers nie.

Volgens Minnaar is daar geen rede waarom Softline moet denoteer nie.

“Dit wil lyk of die bestuur die maatskappy vir ‘n appel en ‘n ei wil koop en die winste vir hulself wil hou. Softline is nie een van die maatskappye met ‘n markkapitalisasie van R1 miljoen of R2 miljoen vir wie notering nie meer sin het nie.”

Mnr. Asief Mohammed, hoofbeleggingsbestuurder van Metropolitan Batebestuur, voeg sy stem by dié van Minnaar en sê die bestuurskonsortium is op soek na ‘n winskoop. OMAM hou sowat 10% in Softline en Metropolitan sowat 3%.

African Harvest, wat sowat 7% in Softline hou en onlangs nog aandele in die maatskappy gekoop het, het by monde van mnr. Anthony Sedgewick, ‘n beleggingsbestuurder, gesê hy is nie verlig oor KPMG se bevindings of verras dat dit sy standpunt ondersteun nie.

Softline is in 1988 gestig en het in 1997 genoteer. Sy aandele het in ‘n stadium ‘n hoogtepunt van R12 bereik.

Ander aandeelhouers wat meer as 5% in die maatskappy hou, sluit in Madryn Enterprise, Goldman Sachs Asset Management en die Ohio State Teachers Retirement System.

Softline het teen einde September verlede jaar R133 miljoen se kontant in die bank en bykans geen rentedraende skuld gehad nie. Die maatskappy verdien 55% van sy inkomste en 60% van sy bedryfswins in die buiteland.

Epstein het vroeër gesê die tegnologiebedryf is in ‘n konsolidasiefase. “Ons het die storm wat op die ineenstorting van die internasionale tegnologiesektor gevolg het met groot sukses die hoof gebied, maar die mark het nie dié gevoel gedeel nie. Ons het goeie sake, maar is ondergewaardeer. Die aanbod gee aan aandeelhouers die geleentheid om teen ‘n billike prys uit te klim.

“Die maatskappy se aandeel het voordat die winswaarskuwing op 5 Februarie uitgereik is rondom die vlak van 85c tot 94c verhandel.

“Die aanbod is ‘n premie van 35% tot 50% teen daardie prysvlak, ‘n premie van 25% teen Softline se netto batewaarde per aandeel van 104c en 120% hoër as die tasbare batewaarde per aandeel van 59c.”

Softline se rekeningkundige programmatuur vir klein- en middelslagondernemings oorheers die Suid-Afrikaanse en Australiese mark en is ook gewild in Amerika en Kanada. Potensiële bedreigings sluit in Microsoft, wat die rekeningkundige mark betree, en die konsolidering van ander mededingers.

Softline het sowat 340 000 ondernemings met nagenoeg 5,5 miljoen individuele gebruikers wat sy tegnologie op ‘n daaglikse grondslag gebruik.

Source: Rapport – Dawid Brand