TISO WIL KONSOLIDASIE AAN DIE GANG KRY

KAAPSTAD. — Die swartbemagtigingsmaatskappy Tiso hoop om konsolidasie in Suid-Afrika se media-sektor aan die gang te sit as sy bod van R1,1 miljard vir New Africa Investments (Nail) suksesvol is.
Tiso is deel van ‘n konsortium waarvan ten minste 50% swart eienaars is en wat ‘n bod gemaak het om al Nail se aandele teen R9 elk te koop.
Mnr. Fani Titi, uitvoerende voorsitter van Tiso, verwag dat ‘n finale aanbod binne die volgende twee tot drie weke gemaak sal word. “Daar was al baie praatjies oor konsolidasie in die mediasektor. Hierdie sal die eerste stap wees,” het hy gesê.
Nail het verskeie nie-bindende aanbiedinge ontvang. Hosken Consolidated Investments, wat e-TV besit, het ook belangstelling uitgespreek. Daar is gerugte dat die media en vermaaklikheidsgroep Johnnic Communications ‘n oog op Nail het. — (Reuters)

Source: Die Burger