In ‘n swart bemagtigingstransaksie het Hoskens Consolidated Investments (HCI) ‘n belang van 25,1 % (met `n beleggingswaarde van R91,8 miljoen) in Clover Industries Bpk. (CIL) verkry.

Clover se produsentelede het met die nodige 75 % meerderheidstem hierdie transaksie gesteun ten spyte van die Clover Produsente Aksiekomitee (Pakom) se aanmoediging vir ‘n teenstem.

Volgens Pakom is daar verskeie onopgeloste sake wat nog met Clover se bestuur bespreek moet word.

Dit sluit in die moontlike verlies aan produsentebeheer in CIL, die aandele-aansporingskema, melkprysstruktuur en winsgewende melkproduksie op lang termyn.

HCI het aangedui dat hy met produsente sal saamwerk om die sake op te los en die ekonomiese lewensvatbaarheid van produsente te verbeter.

Volgens mnr. Bennie Jonker, voorsitter van Pakom, is die komitee nie teen SEB gekant nie, maar teen die feit dat HCI nie ‘n “gefokusde” maatskappy is nie en ‘n geskiedenis het van drasties wisselende finansiele resultate.

“Die maatskappy het geen belang of ondervinding in die landbou of voedselbedryf nie.”

Jonker se in ‘n verklaring Pakom is bekommerd oor die moontlike verlies aan produsentebeheer en is gekant teen die lae prys vir aandele.

Source: Landbouweekblad