‘Soos die dag toe TV-beelde van swart-en-wit na kleur verander het.”

Dít is hoe die minister van kommunikasie, dr. Ivy Matsepe-Casaburri die digitalisering van TV in die land beskryf het.

Met die goedkeuring van die digitaliseringsbeleid op 6 Augustus het die kabinet riglyne vir digitalisering goedgekeur en bekragtig dat analoogseine teen November 2011 afgeskakel moet word.

Maar moenie paniekerig raak nie, is Matsepe-Casaburri se boodskap aan kykers, want omskakeling bied die moontlikheid van meer kanale en kristalhelder beelde. Sanri van Wyk het gaan vasstel wat digitalisering inhou en hoe dit werk.

DIE INVLOED VAN DIGITALISERING OP UITSAAIERS

e.tv: Die proses hou groot uitdagings in, sê mnr. Vasili Vass, publisiteitshoof.

Vass sê die driejaartydperk wat die regering bepaal het, is “baie ambisieus.”

Om te verseker dat die 2011-spertyd gehaal word, moet: die spesiale dekodeerders nie te duur wees nie; genoeg nuwe kanale geskep word om mense aan te moedig om die spesiale dekodeerders aan te koop; en voldoende massakommunikasieveldtogte aangepak word om mense ingelig te hou.

Vass sê die venstertydperk waartydens sowel analoog- as digitale seine beskikbaar is, gaan geweldig baie kos.

Aangesien die omskakeling geen ekstra wins vir uitsaaiers inhou nie, sê Vass, kan die regering nie verwag dat uitsaaiers die koste self moet dra nie. Daarom sal e.tv met die regering en die Onafhanklike Uitsaai-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) moet skakel om hulle te oorreed om die koste te dra.

“Daar is planne om die dekodeerders te subsidieer, maar nog geen sprake om uitsaaiers se enorme koste gedurende die venstertydperk te dra nie.”

‘n Voordeel van digitalisering, sê Vass, is dat e.tv minstens een ekstra kanaal kan bykry. Ook sal die meeste kykers sterker seine opvang.

SAUK: Mnr. Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, sê die openbare uitsaaier is op dreef om die 2011-spertyd vir omskakeling te haal. Hy sê al wat ‘n struikelblok kan wees, is dat die regering sekere besonderhede nog nie gefinaliseer het nie. Ook hy is bekommerd oor die koste van uitsending in die venstertydperk. Teen jaar drie, sê hy, sal die SAUK se huidige uitsendingskoste verdubbel het.

Ook die SAUK beplan nuwe kanale, sê Kganyago.

Multichoice: Multichoice-intekenare ontvang reeds via hul skottels digitale seine en word dus nie geraak nie, sê mnr. Kwezi Mtengenya, hoof van reguleringsake van Multichoice Africa. M-Net-intekenare word egter wel geraak. Dié kanaal, sê Mtengenya, werk egter nou hard aan ‘n ander dekodeerder wat analoogseine na digitale seine omskakel.

DIGITALISERING IN ANDER LANDE

Switserland het die proses reeds afgehandel. Dié land het die digitaliseringsproses in vyf fases aangepak. Dit het in September 2005 begin en is Oktober verlede jaar voltooi.

Brittanje pak die proses in vier fases aan. Dié land se digitalisering het vanjaar begin en duur tot 2012.

OMSKAKELING SE PRYS

Vir kykers:

Die dekodeerders kos sowat R700. Die regering sal sowat 5 miljoen gesinne uit die “armstes van die armes” met 70% subsidieer. Dié groep se dekodeerders kos dan sowat R210.

Geen intekenaarsgelde: Die dekodeerderprys is eenmalig en kykers hoef nie intekenaarsgelde te betaal nie, sê mnr. Joe Makhafola, Matsepe-Casaburri se woordvoerder. Kykers moet egter steeds hul TV-lisensiegelde betaal. Kykers met analoog-TV en die spesiale dekodeerder sal net gratis kanale (e.tv en SAUK) kan kyk.

Vir die regering:

Volgens me. Lyndall Shope-Mafole, direkteur-generaal van die nasionale departement vir kommunikasie, sal dit die regering sowat R2,4 miljard kos om die armes se dekodeerders met 70% te subsidieer.

Matsepe-Casaburri het gesê die ganse digitaliseringsproses gaan die regering sowat R1 miljard kos. Dit is in dié stadium moeilik om te sê wat die proses uitsaaiers gaan kos.

REDE VIR DIGITALISERING

Die Suid-Afrikaanse regering het nie ‘n keuse nie en tree ingevolge ‘n opdrag van die Verenigde Nasies (VN) op.

Ingevolge ‘n besluit van die VN se Internasionale Telekommunikasie-unie (ITU), moet alle lande in Europa, Afrika en die Midde-Ooste teen 17 Junie 2015 omstreeks 01:00 gedigitaliseer het. Dié besluit is in 2 006 ingevolge die Geneefse Ooreenkoms op ‘n streekradiokommunikasiekonferensie van die ITU geneem.

Só RAAK DIT JOU

Kykers met ‘n analoog-TV het die regering se spesiale dekodeerder nodig.

Kykers met skottels het – ongeag die soort TV wat hulle het – nie ‘n ekstra dekodeerder nodig nie.

Kykers met digitale TV’s vang met behulp van ‘n gewone TV-antenna die nodige seine op, en het nie die regering se spesiale dekodeerder nodig nie.

Kykers met hoë-definisie-TV’s (HDTV) het óf ‘n skottel (en die digitale dekodeerder wat daarmee saamgaan), óf die regering se spesiale dekodeerder nodig.

GOEDGEKEUR:

Die plaaslike vervaardiging van die spesiale dekodeerders wat analoogseine na digitale seine omskakel: Die minister van kommunikasie, dr. Ivy Matsepe-Casaburri, het gesê die regering het nog nie besluit watter plaaslike vervaardigers die dekodeerders gaan maak en wanneer vervaardiging sal begin nie, maar hoop om die dekodeerders middel volgende jaar op die rakke te hê.

Tegniese spesifikasies vir dié dekodeerders: Die regering en die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS), is in die proses om standaarde vir die dekodeerders op te stel.

‘n Stelsel om dekodeerders vir “die armste van die armes” te subsidieer sodat dié kykers dekodeerders goedkoper kan koop: Volgens Casaburri sal sowat vyf miljoen gesinne dié vergunning kry. Die proses sal gedokumenteer word, maar maatstawwe oor wie in aanmerking kom, is nog nie gefinaliseer nie, sê sy. Die dekodeerders hou sowat vyf jaar. Hierna sal die regering armes nie weer subsidieer nie, sê Casaburri.

WAT IS DIGITALISERING?

Digitalisering: die proses om seine van analoog na digitaal te verander. Ná omskakeling sal die relatief min beskikbare radiofrekwensie in die land meer doeltreffend as met analoog-tegnologie benut word. So kan uitsaaiers minder frekwensie gebruik as vóór omskakeling. Die verhouding is min of meer een tot agt. Waar ‘n uitsaaier byvoorbeeld een kanaal op ‘n betrokke frekwensie kon uitsaai, sal agt kanale ná digitalisering op dieselfde frekwensie beskikbaar wees, sê mnr. Kwezi Mtengenya, hoof van reguleringsake van MultiChoice Africa.

Hoë-definisie-TV (HDTV): Baie mense verwar digitale TV met HDTV. Laasgenoemde het niks te make met die ontvangs of omskakeling van seine nie, maar verwys na kristalhelder beeld- en klankgehalte. Om HDTV te kyk (DVD?s uitgesluit), moet ‘n kyker ‘n HDTV-stel, ‘n HD-dekodeerder en toegang tot ‘n HD-kanaal hê. MultiChoice het pas HDTV (‘n kanaal en ‘n dekodeerder) bekend gestel.

Source: Die Beeld – Sanri van Wyk