Die verdeeldheid in die SABC-raad en sy topbestuur oor die beheer van die korporasie en sy redaksionele vryheid is die vernaamste rede waarom dit ’n finansiële krisis beleef met verliese van meer as R784 miljoen.
Dié bevinding is gedoen in ’n verslag van die ouditfirma Deloitte wat die afgelope week aan Rapport gelek is.

Opposisiepartye en vakbonde waarsku dat kykers die meeste hieronder gaan ly.

“Hulle gaan net verder blootgestel word aan programinhoud van nog swakker gehalte, meer herhalings van programme, meer advertensies en meer regeringspropaganda,” sê mnr. Hannes du Buisson, hoof van die mediawerkersvakbond Bemawu.

Die SABC se probleme het aan die lig gekom nadat mnr. Barry Aaron, ’n prokureur van Johannesburg, die afgelope week ’n dringende aansoek om die likwidasie van die SABC by die hooggeregshof ingedien het.

Hy het die saak Donderdag van die rol laat skrap toe die SABC onderneem het om R450 000 se skuld aan regskoste aan hom te betaal.

Mnr. Robin Nicholson, finansiële hoof van die SABC, sê die geldelike verknorsing kan grootliks toegeskryf word aan ’n verlies van R400 miljoen se advertensie-inkomste die afgelope finansiële jaar.

Die res van die verliese is weens buitefaktore – verhoogde koste in die aankoop van programme, die verkryging van uitsaairegte, die wêreldwye ekonomiese krisis, mededinging in die uitsaaibedryf en die geld wat die openbare uitsaaier in die digitalisering van TV moes stort, sê Nicholson.

Statistieke van die internasionale medianavorsinggroep, Nielsen, dui egter daarop dat die SABC se advertensie-inkomste tussen 2007 en 2008 nie veel gedaal het nie.

Die SABC se inkomste uit advertensies het maar van R4,872 miljoen tot R4,691 miljoen (dus 4%) gedaal, sê me. Mary Dlezi, ’n senior media-analis by Nielsen. In dieselfde tydperk het e.tv se advertensie-inkomste met 10% gestyg en Muiltichoice Africa (DStv) s’n met 22%, sê Dlezi.

Du Buisson sê hy glo nie die SABC se “verskonings” vir sy finansiële probleme nie.

“So ’n krisis gebeur nie oornag nie. Dit is ’n saak van swak finansiële beplanning wat oor ’n tydperk gebeur,” sê Du Buisson.

Die korporasie het byvoorbeeld slegs ’n maand gelede ’n klomp mense na die J&B Met-perdewedrenbyeenkoms in Kenilworth Kaapstad laat vlieg, sê Du Buisson.

Altesame 23 bestuurders is ook vir miljoene rande by die uitsaaier se inhoudsafdeling aangestel, sonder dat enige personeel aan hulle rapporteer, sê hy.

“Dit is totale malligheid as daar in ag geneem word dat die korporasie nou geld moet leen om sy personeel te betaal,” sê Du Buisson.

Me. Dene Smuts, DA-woordvoerder oor kommunikasie, sê dit is duidelik dat die Deloitte-ondersoek en die lek van die dokument aan die media “niks anders is nie as ’n poging van die ANC om van die SABC-raad ontslae te raak”.

Enigeen wat die SABC-raad se vermoë ondersoek om die uitsaaier te bestuur, behoort in aanmerking te neem dat die prokureursfirma Bowman Gilfillan bevind het dat die geskorste uitvoerende hoof, mnr. Dali Mpofu, persoonlik verantwoordelik is vir die krisis, sê sy.

Hy is juis teen die ANC se sin afgedank omdat daar bevind is dat hy die korporasie se finansiële regulasies oortree het, sê Smuts.

Die SABC het Donderdag ’n omkeerstrategie bekend gemaak waarkragtens poste gevries word, programme teen goedkoper pryse vervaardig gaan word en advertensie- koste verhoog word.

Source: Rapport – Johan Eybers