Die uurglas loop leeg vir klere-en-tekstielvervaardigers. Maatskappye in die plaaslike bedryf het gister erken dit raak ál moeiliker om voort te spartel.

Eerste in ’n lys van onlangse stappe om af te skaal, is die geforseerde afdankings by die land se grootste klere-en-tekstielvervaardiger, Seardel – ’n volfiliaal van die HCI-groep. Dié groep het verlede week in ’n Sens-verklaring gesê vier afdelings by sy filiaal Frame Textiles gaan sluit.

Sowat 1 400 mense sal volgens mnr. Stuart Queen, finansiële hoof van Seardel, in die spin-, weef-, afwerking- en denim-afdeling van Frame afgedank moet word in ’n gefokusde “sentraliseringsstrategie”.

“Die afdankings is deel van ons herstruktureringsproses. Dié afdelings ly al geruime tyd verliese en dis nou buite ons beheer.”

Queen sê die klere-en-tekstielbedryf is een van die wêreld se goedkoopste sektore vir werkskepping. “Dis sinvol om dié bedryf wêreldwyd te ondersteun, maar dit word moeiliker om mee te ding met die talle subsidies van lande in die Ooste,” sê hy. Die subsidies sluit onder meer aansporingsinisiatiewe en goedkoper infrastruktuur in.

Mnr. Iqbal Khan, uitvoerende hoof van House of Monatic, ’n filiaal van die beleggingsgroep Brimstone, het gister gesê meer as die helfte van dié klere-eenheid se werkers sal moontlik herontplooi moet word. “Ons sal by ons vervaardigingsafdeling in Parow moet snoei, maar ons wil sover moontlik die mense herontplooi,” het Khan gesê.

Daar was gister ook sprake van “sokkies optrek” by Rex Trueform – die klerevervaardiging en kleinhandelgroep wat onder meer Queenspark besit. Die groep se vervaardigingsafdeling het in sy mees onlangse jaarverslag ’n verlies bekend gemaak.

Kenners skryf die werkverliese in die bedryf die afgelope paar jaar deels toe aan die ondoeltreffendheid van ’n kwotastelsel op invoer uit China om mededingendheid te bevorder.

Die vermenigvuldigereffek van die werkverliese is diep, sê mnr. Chris Gilmour, kleinhandelontleder by Absa Batebestuur. Die klerewerkersvakbond, Sactwu, het sy woede uitgespreek oor die afdanking van werkers by Frame. “Ons is veral teleurgesteld dat die departement van handel en nywerheid nie betyds ’n oplossing hiervoor kon vind nie,” het Sact-wu in ’n verklaring gesê.

Die kwotastelsel op invoer uit China – wat van begin 2007 tot einde 2008 op 31 geïdentifiseerde klere-en-tekstielreekse van toepassing was – het nie die verwagte welslae behaal nie. ’n Navorsingsverslag deur mnr. Johann van Eeden van die ekonomiese konsultansiemaatskapy Econex, toon invoer uit ander lande soos Maleisië, Viëtnam, Bangladesj en Mau- ritius was in dié tydperk op ’n maandgrondslag meer as 20 keer meer. “Dit is goed vir kleinhandelaars omdat hulle nou meer opsies het, maar dit het aansienlike druk geplaas op die plaaslike klere-en-tekstielbedryf,” het Van Eeden gesê. Sy bevindings toon sowat 35 000 werkgeleenthede in die vervaardigingsbedryf het in dié tydperk in die slag gebly.

Source: Sake 24 – Florence de Vries