Close

Not a member yet? Register now and get started.

lock and key

Sign in to your account.

Account Login

Forgot your password?

IQ SE ROETS SPAN NUE DIE IT-KAR VOOR DIE PERDE IN NIE

Nedcor het vroeër verlede week aangekondig dat hy ‘n belang in The IQ Business Group bekom het as deel van sy strategie om die bankwese toenemend met inligtingstegnologie te verbind.

Maarten Mittner het met IQ se uitvoerende hoof, mnr. Johan Roets, gaan gesels en uitgevind hoekom een van die land se grootste banke so belang stel in ‘n onderneming wat kwalik twee jaar oud is.

Die verbysterende vinnige pas van sake doen in die huidige inligtings- en internet-tydvak is verlede week duidelik geïllustreer met Nedcor se verkryging van ‘n belang van 25,1% in The IQ Business Group met die opsie om dit tot 45,1% te verhoog.

The IQ Business Group is Suid-Afrika se grootste ongenoteerde inligtingstegnologie-maatskappy. Kwalik twee jaar oud het hy in April 1998 weggespring met aanvangskapitaal van R22 miljoen. In die eerste jaar het omset tot R177 miljoen gestyg met ‘n vooruitskatting van R410 miljoen vir die huidige boekjaar. As Nedcor se prys van R142,4 miljoen bygevoeg word, is IQ tans R567 miljoen werd.

Nie sleg nie. Dit het vyf jaar lank geduur voordat Dimension Data ‘n soortgelyke omset kon behaal.

Met die vinnige groei kan verstaan word hoekom The IQ Business Group so ‘n aantreklike koop vir Nedcor was. Nedcor self, of enige van die drie ander groot handelsbanke, was net nie in staat om die afgelope twee jaar teen dié pas te groei nie. Daarom dat Nedcor sy visier nou rig op ondernemings wat deur jong entrepreneurs begin en uitgebrei word.

Aan die hoof van die The IQ Business Group staan mnr. Johan Roets (35), ‘n opgeleide geoktrooieerde rekenmeester en cum laude-student aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Hy het twaalf jaar by Arthur Andersen gewerk en later vennoot geword, maar steeds die brandende begeerte gehad om sy eie ding te doen.

“Andersen het ‘n ongelooflike kultuur en ek het baie goed daar gedoen. Maar dikwels bereik ‘n onderneming net ‘n stadium waarin hy nie meer sy visie uitleef nie en die pad effens byster raak. Ek was op pad om my by Supergroup aan te sluit toe die geleentheid opgeduik het om IQ te begin.”

Roets is vandag geklee in ‘n jean en ‘n blou hemp met ‘n getekende vrolike veelkleurige son wat lug uitblaas daarop. Dit is vandag informele dag by die kantoor in Rosebank, Johannesburg. Teen die mure hang sketse van Einstein, Madame Curie en Marconi. Almal slim uitvinders.

Hy sit ‘n blou boek met ‘n hardeband op die tafel neer. Die eerste helfte is vol geskryf, maar die tweede helfte bevat net leë bladsye. Op die voorblad staan die woorde “The IQ Story”.

“Die gedagte om so ‘n boek met ons besigheidstorie en die staaltjies daaraan verbonde op te stel en aan elke werknemer te versprei, het by my ontstaan toe ek Richard Branson se outobiografie op ‘n onlangse skivakansie in Switserland gelees het. Toe hy met sy transatlantiese lugvaart met sy ballon in die see beland het en gered moes word, het hy onderneem om die staaltjies en stories van die vroeë Virgin aan sy kinders en belangstellendes oor te dra.

“Dit is wat ons met die IQ Story wil oordra. So veel staaltjies gaan verlore. Ons wil verhinder dat dit hier gebeur. Die leë bladsye het betrekking op dit wat nog in ons onderneming gaan gebeur. Daar gaan binnekort ‘n opdatering kom.”

Kan hy dalk in ‘n neutedop verduidelik hoe ‘n mens in net twee jaar meer as R500 miljoen in die inligtingstegnologie-bedryf maak?

“Ons konseptuele idee en besigheidsplan was aanvanklik meer van ‘n onderliggende gevoel (`gut feeling’). Ons het ‘n probleem opgemerk in die voorsieningskanaal tussen die onderneming en die kliënt waar inligtingstegnologie en die besigheid in konflik met mekaar verkeer het. Ondernemings het dikwels die hamer-benadering gebruik waardeur probleme reggeslaan is.

“Ons benadering was anders in die sin dat ‘n hamer nie altyd nodig was nie. Ander inligtingstegnologie-ingrype moes beproef word. Daar moes uit ‘n vars hoek na die probleme gekyk word. Ons vat ook meer risiko saam met die kliënt. Ons sal byvoorbeeld saam met die kliënt sekere geld in die projek belê sodat ons ‘n gesamentlike belang by ‘n oplossing het.”

Investec Bank was die eerste kliënt. Daarna het gevolg Total SA en Fedsure Health. Volgens Roets hoef IQ nie eens vir sake te tender nie. “Ons vra min vir werk. Dikwels vra die kliënt vrae soos wie ons eintlik is. Die antwoord is dat ons soos niemand is nie. Ons is bereid om risiko’s te loop. Die ou aan die ander kant van die tafel moet darem eerbaar wees,” lag hy.

Is IQ die Dimension Data van die toekoms?

Hierop wil hy nie sommer reguit antwoord nie. “Ons speel eintlik nie in die netwerk-omgewing waar Dimension Data optree nie. Hier en daar is oorvleueling, maar dit is min. Dit is nie te sê dat ons nie Dimension Data dophou nie en moontlike swarigheid in die toekoms vir hulle voorsien nie. Hulle gebruik nog te dikwels die hamer-benadering terwyl spanne te veel op hul eie werk en te min as ‘n eenheid. Dit kan probleme vir hulle in die toekoms skep, maar soos ek hulle ken, sal hulle ‘n oplossing daarvoor vind.”

Het Nedcor hom genader of was dit andersom?

“Barry Hore, Nedcor se tegnologiehoof, het my aanvanklik verlede jaar by die Miljoendollar-gholftoernooi in Sun City genader. Maar ons het net in die algemeen gesels wat darem later opgevolg is deur verdere gesprekke met van sy base. Maar dit was eers in Maart vanjaar dat Nedcor dit duidelik gestel het hulle soek ‘n aandeel in ons besigheid.”

Roets sê hy is opgewonde oor die Nedcor-bande. Hy wys daarop dat hulle kosteverhouding die laagste van die vier groot banke is en die afgelope vier jaar geen kosteverhogings ervaar het nie. “Ek is baie positief oor dié bande aangesien Nedcor duidelik mense is met wie ons kan saamwerk.” IQ is nie haastig om te noteer nie. Daarvoor is die ervarings van die 1987-val nog te vars in Roets se geheue. Hy was toe ‘n leerling-geoktrooieerde klerk. “Dit het my met die val drie jaar gekos om my oortrokke rekening af te betaal.” Met die stigting van IQ in 1998 het Roets ‘n voorgevoel gehad dat inligtingstegnologie-ondernemings oorwaardeer is, wat toe reg was. Vanjaar was daar die val in die Nasdaq wat hom minder geesdriftig vir ‘n spoedige notering gemaak het.

“‘n Notering bly ons oogmerk, maar sal waarskynlik eers teen die middel van aanstaande jaar ‘n werklikheid kan word wanneer ons markwaarde sowat R1,5 miljard sal wees. Maar dit sal ook afhang van die markomstandighede dan. Ons soek nie nou kapitaal nie terwyl die omvang van plaaslike oornames beperk is.”

Tot dan beoog IQ om hoofsaaklik organies en internasionaal te groei. Tussen 20% en 30% van sy verdienste is tans afkomstig van bedrywighede in Brittanje, Amerika en Australië. “Veral in Australië gaan dit goed met ons belange.”

Hy erken dat hy die afgelope jaar heelwat moes vlieg en verskeie oorsese lande moes besoek. Maar hy is duidelik nie baie beïndruk met vlieg nie. “Om te vlieg het sy glans verloor, veral as jy ekonomiese klas moet vlieg soos ek en my kollegas.”

Roets sê hy het die afgelope twee jaar harder as ooit gewerk. “Maar dit is positiewe druk en nie die negatiewe druk wat dikwels by groot maatskappye voorkom nie. Dit beïnvloed jou sielkundige uitkyk anders.”

Roets sê hy glo ‘n kultuur en mense is die belangrikste aspek van enige onderneming. Dit word duidelik weerspieël deur IQ se huidige aandeelhouding met 40,6% wat uit aansporingsreëlings bestaan.

Naas Nedcor is ander aandeelhouers Fedsure (10,1%) en “Hosken” Consolidated Investments (HCI) met ‘n regstreekse belang van 12,1%.

Source: Volksblad – Maarten Mittner