JOHANNESBURG. — Die moontlikheid dat nog ‘n nis finansiële groep gedenoteer gaan word, het gister toegeneem nadat Hosken Consolidated Investments (HCI) aangekondig het dat hy ‘n meerderheidsbelang in Mettle verkry het.  HCI het eergister ‘n bykomende belang van 38 483 442 aandele in Mettle verkry wat tesame met sy vorige aandeelhouding neerkom op ‘n meerderheidsbelang van 52,1%. HCI se onregstreekse aandeelhouding in Mettle beloop tans 283 007 671 aandele. Volgens die vereistes van die Sekuriteitereguleringspaneel (SRP) moet ‘n verpligte aanbod nou aan minderheidsaandeelhouers gemaak word. Die aanbod sal teen 50c per aandeel geskied. Mettle se aandeelprys het laas teen 49c verhandel. Sy hoogte- en laagtepunt vir die jaar is 75c en 40c. Indien die aanbod aan minderhede deurgevoer word, sal Mettle waarskynlik gedenoteer word. Mettle het aan die begin van verlede jaar ook besluit om te denoteer. Heftige reaksie van sommige aandeelhouers, veral Investec en Ou Mutual, het daartoe gelei dat die denotering laat vaar is. Mettle se bestuur was destyds bereid om 60c aan buite-aandeelhouers te bied. Veral Investec het sterk kapsie hierteen gemaak en gesê dat dié aanbod nie die werklike waarde van Mettle weerspieël nie.  Mnr. Gavin OConnor, uitvoerende hoof van Mettle, het daarop ingestem om Mettle genoteer te hou met die hoop dat die aandeelprys ‘n skerp styging sal toon.  Dit het nie gebeur nie, sodat Mettle se bestuur ingestem het om ‘n meerderheidsbelang aan HCI af te staan.

Source: Die Burger – Maarten Mittner