JOHANNESBURG. — Die nis finansiële onderneming Mettle is voornemens om van die Johannesburgse Aandelebeurs, die JSE, te denoteer.  Mnr. Gavin OConnor, besturende direkteur, het gesê min waarde word vir minderheidsaandeelhouers in die huidige markomstandighede ontsluit. Hy kan ook nie sien dat die stemming jeens kleiner aandele binnekort sal verander nie. Hosken Consolidated Investments (HCI), Mettle se beherende aandeelhouer, het onlangs sy belang in die onderneming tot 52% opgestoot, wat ‘n verpligte aanbod aan minderhede noodsaak. HCI en Mettle se bestuur het besluit om nie die aanbod in sy huidige vorm te aanvaar nie. In die denoteringsproses sal ‘n effens hoër aanbod aan minderhede van HCI gedoen word, wat op 50c per aandeel neerkom. Dit is ‘n premie van nagenoeg 16% op die gemiddelde verhandelingsprys die afgelope 30 dae, maar is minder as die werklike waarde van Mettle.  Mettle verhandel tans teen 48c per aandeel en sy netto batewaarde is 62c per aandeel.

Source: Die Burger