JOHANNESBURG. Die spesialis-finansiëledienstemaatskappy Mettle, wat in die derde kwartaal van vanjaar op die Johannesburgse beurs genoteer gaan word, se verdienste per aandeel vir die jaar tot einde Maart het met 70% tot 2 006c verbeter teenoor 1 181c in 1998. Die kernverdienste het met 155% tot R30,289 miljoen gestyg in vergelyking met R11,850 miljoen. Die omset het met sowat 92% gegroei tot R64,569 miljoen teenoor R33,582 miljoen die vorige jaar. Die maatskappy, wat minder as vier jaar bestaan, sê die groot styging in sy kernverdienste was hoofsaaklik te danke aan organiese groei. Die netto-batewaarde het in die afgelope boekjaar sowat sesvoudig vermeerder tot R340 miljoen. Mnr. Ian Matthews, besturende direkteur, sê die gestruktureerde produkte-afdeling het sy sterk groei voortgesit, maar die inkomste is sterk ondersteun deur die bydraes wat van die maatskappy se nuwe finansierings- en tesourie-afdelings ontvang is. Matthews sê die sterk groei in kernverdienste is moontlik gemaak deur die groep se bedrywighede vanaf Kaapstad en Johannesburg uit te brei na Namibië, Zimbabwe en Londen, asook die groep se vermoë om “buitengewone oplossings” in uitgesoekte finansiële nismarkte te bied. “Vanuit die staanspoor het Mettle homself daarop geroem dat hy buitengewone oplossings kon verskaf in ‘n mark waar gewone oplossings nie meer van toepassing is nie,” sê Matthews. Die bestuur van Mettle besit sowat 40% van die maatskappy se aandele, terwyl die res gelyk verdeel is tussen die swartbemagtigingsgroep Hosken Consolidated Investments en die BOE groep. Matthews sê hy verwag dat die banklisensie wat in Mei aan die maatskappy toegestaan is grootliks tot sy groei gaan bydrae. “Ons glo dat die lisensie aan Mettle ‘n paar opwindende geleenthede gaan verskaf om sy kernbedrywighede te ondersteun. Verhoog verantwoordelikheid “Die maatskappy se skatkisafdeling gaan besondere voordeel uit die lisensie trek deurdat hy nou kredietlyne van ander banke kan bekom. “Die eienaarskap van die banklisensie verhoog egter ons verantwoordelikhede ten opsigte van risikobestuur. Dié funksie word gevolglik versterk,” sê hy. Een van Mettle se kernfokuspunte vir die komende jare sal wees om sy bedrywighede in die buiteland uit te brei deur sy kantoor in Londen. Matthews sê dié beplande uitbreidings sal steeds gekoppel wees aan die maatskappy se kernbedrywighede, naamlik gestruktureerde produkte en sy tesourie- en finansieringsafdelings. ——————————————————————————–

Source: Die Burger – Pieter Bruwer