KAAPSTAD. Mettle, die Kaapse finansiëledienstemaatskappy waarin die bemagtigingsgroep Hosken Consolidated Investments (HCI) en Mettle se bestuur ‘n belang van net minder as 50% het, het uitstekend gepresteer in die jaar tot einde Maart 2000. Die omset is met 64% tot R106 miljoen opgestoot, die belaste wins met 47% tot R44,5 miljoen, die verdienste per aandeel met 31% tot 13,4% en die dividend met 75% tot 3,15c per aandeel. Die totale bates het die afgelope boekjaar van R340 miljoen tot R509 miljoen gespring. Mettle se besturende direkteur, mnr. Gavin O`Connor, is vol vertroue dat die groei van rondom 30% per jaar in verdienste sedert die stigting van die maatskappy vyf jaar gelede, vorentoe volgehou sal kan word. Mnr. Daneel van der Walt, uitvoerende direkteur van Mettle, het aan Sake gesê met vier maande van die lopende boekjaar agter die rug, lyk dit beslis of groei van 30% of meer in verdienste tot einde Maart aanstaande jaar behaal sal word. Hy sê die uitdaging vorentoe is uitbreiding in die institusionele mark, want die groep is reeds sterk in die korporatiewe mark. Hy voorsien ook ‘n groeiende bron van oorsese inkomste met uitbreiding na naburige Afrika lande en ook Asië. Uitbreiding in Kenia oorweeg “Ons is reeds in Suider-Afrika bedrywig en kan selfs daarmee spog dat ons die afgelope jaar geld gemaak het in Zimbabwe in Amerikaanse dollar. Ons kyk nou na Kenia se mark en oorweeg samewerkingsooreenkomste met plaaslike groepe in Afrika lande omdat die Afrika mark moeilik en uniek is. Dit help dus om plaaslike kundigheid wat die mark ken, te betrek,” het Van der Walt gesê. Mettle het sy goeie vertoning behaal ondanks die probleme wat baie kleiner banke in Suid-Afrika die afgelope jaar ondervind het. Van der Walt sê die konsolidasieproses in die sektor sal waarskynlik voortgaan en dit kan Mettle bevoordeel en geleenthede skep deurdat sekere mededingers uitgeskakel word. Mettle sal op sy nismarkte bly fokus. Notering bly ‘n moontlikheid, maar in dié stadium, met die ongestadigde beurs en woelings in die finansiële sektor, is die groep tevrede met sy huidige posisie. O`Connor het gesê dat ná die aankoop van BoE se belang van 30,8% in Mettle deur HCI en Mettle se bestuur, “geen ander betekenisvolle bankinstelling in Suid-Afrika so ‘n groot bemagtigingsgedeelte soos Mettle in sy eienaarskap het nie”. Die National Union of Mineworkers (NUM) en die SA Clothing and Textile Union (SACTWU) is groot aandeelhouers in HCI en het ‘n gesamentlike lidmaatskap van byna ‘n halfmiljoen. Mnr. Johnny Copeland van HCI en uitvoerende hoof van SACTWU se beleggingsarm, het aan Sake gesê die Mettle belegging is HCI se grootste naas sy beleggings in e-TV en Vodacom. Die groep is hoogs in sy skik met sy opbrengs op kapitaal, die maatstaf waaraan HCI sukses meet. “Ons stel nie belang in beheer oor die groep nie, maar het tans ‘n baie goeie verhouding met die bestuur. Hulle fokus beslis op dit waarin hulle goed is, wat ‘n goeie resep vir welslae is,” het Copeland gesê.

Source: Die Burger – Jaco Leuvennink