Kaapstad. Die naam van die swart bemagtigingsgroep wat die lisensie gaan kry om Suid-Afrika se eerste nasionale lotery te bedryf, gaan binnekort aangekondig word. Die aankondiging sal gedoen word deur mnr. Alec Erwin, Minister van Handel en Nywerheid. Die lotery sal teen die einde van vanjaar in bedryf wees. Die lotery, wat na verwagting een van die wêreld se twintig grootstes sal wees, sal jaarliks na raming tussen R3 miljard en R6 miljard vir liefdadigheid, ontwikkeling en opheffing oplewer. Drie swart bemagtigingsgroepe LottoYethu, Moraba en Uthingo ding om die lisensie mee. LottoYethu is ‘n ten volle Suid-Afrikaans beheerde konsortium wat deur “Hosken” Consolidated Investments en International Gaming Networks aangevoer word. Laasgenoemde is die lotery-arm van Multichoice. Die Moraba Konsortium is ook ten volle plaaslik en staan onder aanvoering van Moribo Leisure. Uthingo bestaan uit plaaslike (70%) en buitelandse (30%) belange. Laasgenoemdes sluit in G-Tech, die wêreld se grootste verskaffer van lotery-toerusting en dienste, Camelot, wat die Britse nasionale lotery bedryf, en Tattersalls, wat loterye in Australië bedryf. Plaaslike vennote sluit in BMF Investments, die beleggingsbeen van die Black Management Forum, Nafcoc Investment Holdings, Disability Employment Concerns Trust, Motswedi Technology Holdings, Numsa Investment en WDB Investments. Die Britse entrepreneur en eienaar van die bekende Virgingroep, mnr. Richard Branson, het aanvanklik ook in die lisensie belang gestel, maar hy het hom later onttrek. Die gesloerdery met die toekenning van die lisensie is as een van die redes hiervoor aangevoer. Die lisensie sal aanvanklik vir ‘n tydperk van vyf jaar toegeken word, wat later tot agt jaar verleng kan word. Afgesien van die lisensiegeld sal die wenner nog sowat R1 miljard in infrastruktuur moet belê. Tussen 3 000 en 10 000 verkoopterminale sal landwyd ge¨nstalleer moet word. Dit sal op die Britse stelsel geskoei word. Die aanduiding is dat die loterykaartjies taamlik goedkoop sal wees om dit vir soveel mense moontlik toeganklik te maak. ‘n Bedrag van R5 per kaartjie is genoem. Wenners sal weekliks tot R1 miljoen kan wen. Die lotery sal op twee bene staan. Die een sal die bekende krapkaart wees, terwyl die ander ‘n stelsel van elektroniese trekkings sal wees. Die SA Poskantoor en die nuwe Nasionale Bemagtigingsfonds moet volgens wet ook aandele hou in die maatskappy aan wie die tender toegeken word. Volgens die tenderuitnodiging mag die bedryfsmaatskappy ‘n maksimum wins van 35% aan homself toeëien van die kapitaal wat hy aangewend het. Die lotery sal na verwagting tussen 40 000 en 50 000 nuwe werkgeleenthede in Suid-Afrika skep. Die Nasionale Raad op Loterye sal oorkoepelend toesig oor die nuwe lotery hou. Sorg sal veral gedra word dat mense onder agttien nie kaartjies koop nie. Hy sal ook ‘n waaksame oog hou oor die maatskaplike probleme wat gewoonlik met die lotery- en dobbelbedryf gepaard gaan.

Source: Volksblad – Hein Swart