JOHANNESBURG. Die Mineworkers Investment Company (MIC) het gisteraand ‘n nuwe bemagtigingsfonds van stapel gestuur met ‘n aanvanklike belegging van R50 miljoen en ‘n doelwit om uiteindelik ‘n fonds van R200 miljoen tot stand te bring. Die bykomende kapitaal sal van pensioenfondse, voorsorgfondse en ander instellings verkry word, het MIC Capital, ‘n vennootskap tussen die MIC groep van maatskappye en Decillon Capital, gisteraand gesê. Die MIC groep het sedert sy ontstaan in 1995 wesenlike belange verkry in Hosken Consolidated Investments (HCI), die vakbondbeleggingsmaatskappy. Die MIC het gisteraand ‘n tjek van R70 miljoen aan die MIT oorhandig, wat ‘n opbrengs is uit sy beleggings in Hosken en Rebhold. Die bemagtigingsfonds wat nou gestig word, is ‘n poging om die MIC te beskerm teen onstuimigheid in aandelemarkte en om op die middel termyn ‘n strategie vir welvaartskepping te ontwikkel. Intussen het mnr. Nicky Oppenheimer, voorsitter van De Beers, gesê dit sal beslis nie die oorlog in Angola keer indien die siening posvat dat elke diamant bydra om die oorlog aan die gang te hou nie. Dit kan egter die einde beteken van myne in Botswana en Namibië. De Beers doen moeiteom te verseker dat diamante nie gebruik word om oorloë te finansier nie. Die diamantreus steun die Verenigde Nasies (VN) se pogings om diamante uit die konflik te hou in Sierre Leone in Wes-Afrika, die Demokratiese Republiek van die Kongo asook ‘n verbod op die aankoop van diamante uit Angola.

Source: Die Burger – Jan de Lange