KAAPSTAD. Die naam van die swartbemagtigingsgroep wat die lisensie gaan kry om Suid-Afrika se eerste nasionale lotery te bedryf, gaan binne enkele dae aangekondig word. Die aankondiging sal gedoen word deur mnr. Alec Erwin, Minister van Handel en Nywerheid. Die lotery sal teen einde vanjaar in bedryf wees. Die lotery, wat na verwagting een van die wêreld se twintig grootstes sal wees, sal jaarliks na raming tussen R3 miljard en R6 miljard vir liefdadigheid, ontwikkeling en opheffing oplewer. Drie swartbemagtigingsgroepe, LottoYethu, Moraba en Uthingo, ding om die lisensie mee. LottoYethu is ‘n ten volle plaaslik beheerde konsortium wat deur Hosken Consolidated Investments en International Gaming Networks aangevoer word. Laasgenoemde is die lotery-arm van Multichoice. Die Moraba Konsortium is ook ten volle plaaslik en staan onder aanvoering van Moribo Leisure. Uthingo bestaan uit plaaslike (70%) en buitelandse (30%) belange. Laasgenoemdes sluit in G-Tech, die wêreld se grootste verskaffer van lotery-toerusting en dienste, Camelot, wat die Britse nasionale lotery bedryf, en Tattersalls, wat loterye in Australië bedryf. Plaaslike vennote sluit in BMF Investments, die beleggingsarm van die Black Management Forum, Nafcoc Investment Holdings, Disability Employment Concerns Trust, Motswedi Technology Holdings, Numsa Investment en WDB Investments. Die Britse entrepreneur en eienaar van die bekende Virgin groep, mnr. Richard Branson, het ook in die lisensie belang gestel, maar hy het hom onttrek. Die gesloerdery met die toekenning van die lisensie is as ‘n rede hiervoor aangevoer. Die lisensie sal aanvanklik vir ‘n tydperk van vyf jaar toegeken word, wat later tot agt jaar verleng kan word. Naas die lisensiegeld, sal die wenner nog sowat R1 miljard in infrastruktuur moet belê. Tussen 3 000 en 10 000 verkoopterminale sal landwyd ge¨nstalleer moet word. Dit sal op die Britse stelsel geskoei word. Die aanduiding is dat die loterykaartjies taamlik goedkoop sal wees om dit vir soveel moontlik mense toeganklik te maak. ‘n Bedrag van R5 per kaartjie is genoem. Wenners sal weekliks tot R1 miljoen kan wen. Die lotery sal op twee bene staan. Die een sal die bekende krapkaart wees, terwyl die ander ‘n stelsel van elektroniese trekkings sal wees. Die SA Poskantoor en die nuwe Nasionale Bemagtigingsfonds moet volgens wet ook aandele hou in die maatskappy aan wie die tender toegeken word. Volgens die tenderuitnodiging mag die bedryfsmaatskappy ‘n maksimum-wins van 35% aan homself toe-eien van die kapitaal wat hy aangewend het. Die lotery sal na verwagting tussen 40 000 en 50 000 nuwe werkgeleenthede in Suid-Afrika skep. Die Nasionale Raad op Loterye sal oorkoepelend toesig oor die nuwe lotery hou. Sorg sal veral gedra word dat mense onder agtien nie kaartjies koop nie. Hy sal ook ‘n waaksame oog hou oor die maatskaplike probleme wat gewoonlik met die lotery- en dobbelbedryf gepaard gaan.

Source: Die Burger – Hein Swart