SWART bemagtiging het die laaste paar jaar geweldig toegeneem en veral verlede jaar het die pas heelwat versnel. Dit het ‘n heeltemal nuwe en uiteenlopende groep van swart aandeelhouers geskep met uitstekende bates in hul besit. Volgens Ernst & Young se jaarlikse oorsig oor samesmeltings en oornames is daar verlede jaar 45 sulke transaksies met ‘n totale waarde van R7 miljard voltrek. Hoewel 1995 se totale transaksiewaarde van R12,4 miljard heelwat meer as verlede jaar was, is dit net deur 23 transaksies meegebring. Die vergelyking word egter verwring deur 1995 se ontbondeling van Johannesburg Consolidated Investments in Johnnic, JCI en Anglo American Platinum. Die totale geregistreerde waarde van dié ontbondelingstransaksie was R12, 12 miljard. Johnnic en JCI was op hul beurt verlede jaar weer betrokke by nuwe swart-bemagtigingstransak sies wat die syfers vir die jaar aan dubbeltelling onderwerp het. Verlede jaar is veral gekenmerk deur ‘n poging om die swart eienaarskapsbasis te verbreed. Die National Empowerment Consortium (NEC) bestaande uit sowat 40 sake-ondernemings,vakbonde en gemeenskapsgroepe is byvoorbeeld gestig om ‘n nuwe model vir swart bemagtiging te wees. Die idee is om weg te kom van die persepsie dat ‘n klein groepie deur die transaksies bevoordeel word en dit eerder as verryking en nie as bemagtiging nie beskryf moet wordgesien nie. Verlede jaar is ook gekenmerk deur die verskyning van vakbond- en gemeenskapsgebaseerde beleggingsgroepe soos die Mineworkers Investment Company (MIC) (wat by die National Union of Mineworkers geaffillieer is), die SACTWU Investment Group, die SA National Civics Organisation Investment Company en die Women’s Investment Portfolio (WIP). Dié groepe het nou aansienlike invloed op bates van miljarde rande, beklee setels in maatskappydireksies en het ‘n sê in sleutel-bestuursbesluite. Swart bemagtiging het ook in die vorm van aandeel-verkrygingskemas vir personeel voorgekom. Sea Harvest het sowat 8% van sy aandele aan die maatskappy se 2500 werknemers verkoop. Die twee grootste swart bemagtigingstransaksies tot dusver was: African Mining Group (AMG) se verkryging van ‘n belang van 34,9% in JCI van Anglo American en De Beers vir R2,88 miljard. Die NEC se aankoop van ‘n belang van 35% in Johnnic van Anglo American vir R2,6miljard. Die oorsig van Ernst & Young noem die volgende ander insiggewende bemagtigingstransaksies: Hosken Consolidated Investments (HCI) het ‘n paar oornames gedoen en die transaksies is in ruil vir aandele in die maatskappy vereffen. Die oornames sluit in die verkryging van Descarte Investments No. 8 (waarvan die hele belegging ‘n 5% belang in Vodacom is), ‘n belang van 11,8% in Saflife, die volle aandelekapitaal van Francolin Investments, wat op sy beurt 60% van Africa on Air besit en ‘n belang van 5% in SA Video Gaming Company. Die uitreiking van dié HCI aandele het die groep se beheer in die hande van SACTWU Investment Group, Mineworkers Social and Benefit Investment Company (MSBIC) en die Mineworkers Investment Company geplaas. Vuna Industrial, Thebe Investment se nywerheidsarm het ‘n belang van 20% in Macmed Health Care vir R54,4 miljoen verkry. Vuna het ook ‘n aandeel van 34% in JHI, die land se grootste eiendomsdienstegroep, in ruil vir kontant en aandele van sowat R15 miljoen verkry. Dié transaksie was die eerste noemenswaardige swart-bemagtigingsaksie in die eiendomsbedryf. Worldwide Africa Invest ments het 5% in Bid Corporation, die beheerliggaam van Bidvest, vir R90 miljoen verkry. ‘n Konsortium, gelei deur Mzi Khumalo, het ‘n verdere belang van 24,5% in Capital Alliance verkry, wat sy aandeel in die groep tot 75,5% vergroot. MIC het 60% in Royal Food Services vir R48 miljoen verkry. Pepkor het 10% van sy belang in Smart Centre vir R46 miljoen aan WIP verkoop.

Source: Die Burger – Dirk de Vynck