JOHANNESBURG. — Ontleders het gister die nuus verwelkom dat Venfin ‘n aandelebelang in e-tv kan kry en gesê dit behoort tot wesenlike voordeel van die gratis televisiekanaal te wees. Dí t kom nadat die Onafhanklike Kommunikasie-Owerheid van Suid-Afrika (Okosa) die groen lig aan Venfin gegee om ‘n belang van 29,5% in Midi TV, die beherende aandeelhouer van e-tv, op te neem. Mnr. Max Koep, ontleder by Deutche Securities, het gesê Venfin kry nou groter insae in die manier waarop e-tv bestuur word en kan dalk net die televisiekanaal vinniger die winsdrempel laat oorsteek. “Die huidige bestuur het goeie werk gedoen om kykersgetalle deur ‘n goeie produk die hoogte in te stuur. Daar is egter probleme met die verkope van advertensies en Venfin sal gewis hier deur ‘n paar geringe veranderings ‘n verskil kan meebring.” ‘n Ontleder wat nie sy naam wou noem nie, het gesê e-tv het tot nou nie aandeelhouers gehad wat groot hoeveelhede kontant in die onderneming kon inploeg nie. “Venfin is ‘n winsgewende maatskappy met wesenlike kontantbronne en kan die nodige finansiële inspuiting aan e-tv gee wat ander aandeelhouers nie kan doen nie.” Die televisiekanaal ly op die oomblik steeds verliese, maar daar word verwag dat die groep teen Mei ‘n positiewe kontantvloei sal hê. Okosa se beslissing bring mee dat Venfin ‘n belang van 29,5% in Midi-TV kan verkry deur ‘n lening van R281,8 miljoen aan Sabido, Midi-TV se beherende aandeelhouer, en ‘n lening van R38,6 miljoen aan Hosken Consolidated Investments (HCI), in gewone aandele om te skakel. Venfin se belang is in werklikheid 33% nadat verskeie minderheidsaandeelhouers nie sekere opsies uitgeoefen het nie. Okosa het ook in sy aankondiging gesê mediagroepe kan skriftelik aansoek doen om geringe veranderings aan belange aan te bring. Venfin het in reaksie gesê die beleggingsgroep oorweeg dit nie in dié stadium om sy belang tot meer as 33% verhoog nie.

Source: Die Burger – Ryk van Niekerk