Kaapstad. Die minderheidsaandeelhouers in Midi Televisie, die maatskappy wat die onafhanklike televisiediens e.tv beheer, sal glo met ‘n belang van 2% in die maatskappy oorbly nadat Rembrandt sy belang in die televisiemaatskappy opgeneem het.
‘n Ingeligte naby aan e.tv het gesê dat Rembrandt ‘n belang van sowat 26% vir ‘n bedrag naby aan R300 miljoen in Sabido Investments, die voertuig wat die belange van Suid-Afrika se aandeelhouers in Midi TV sal huisves, sal opneem.
Rembrandt het verlede maand aangekondig dat hy in beginsel ‘n ooreenkoms bereik het om in e.tv te belê.
Geen verdere besonderhede is bekend gemaak nie.
Die Onafhanklike Uitsaai-owerheid (OUO) het in Desember goedkeuring aan Midi TV verleen om Sabido Investments te begin nadat e.tv finansieel begin swaarkry het.
Die doel hiermee is om e.tv te herkapitaliseer, maar die OUO het daarop aangedring dat die lisensie-ooreenkoms bepaal dat e.tv onder die beheer van die voorheenbenadeeldegroepe moet bly.
Sabido besit 80% van Midi, terwyl die verskil van 20% deur die inter nasionale Time Warner-groep gehou word.
Die bemagtigingsgroep “Hosken” Consolidated Investments (HCI) is die beherende aandeelhouer in Midi TV en moes tot nou die finansiële las van e.tv se bemagtigingsvennote dra nadat dié nie hul finansiële verpligtinge kon nakom nie.
Mnr. Marcel Golding, waarnemende hoof van e.tv en voorsitter van HCI, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Source: Volksblad – Dirk de Vynck