Close

Not a member yet? Register now and get started.

lock and key

Sign in to your account.

Account Login

Forgot your password?

VENFIN VERKRY BELANG IN E.TV

ONTLEDERS het die nuus verwelkom dat Venfin ‘n aandelebelang in e.tv kan kry en gesê dit behoort tot wesenlike voordeel van die gratis televisiekanaal te wees. Dít kom nadat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Icasa) die groen lig aan Venfin gegee het om ‘n belang van 29,5% in Midi-TV, die beherende aandeelhouer van e.tv, op te neem. Mnr. Max Koep, ontleder by Deutsche Securities, het gesê Venfin kry nou groter insae in die manier waarop e.tv bestuur word en kan dalk net die televisiekanaal vinniger die winsdrempel laat oorsteek. “Die huidige bestuur het goeie werk gedoen om kykergetalle deur ‘n goeie produk die hoogte in te stuur. Daar is egter probleme met die verkope van advertensies en Venfin sal gewis hier deur ‘n paar geringe veranderings ‘n verskil kan meebring.” ‘n Ontleder wat nie sy naam wou noem nie, het gesê e.tv het tot nou nie aandeelhouers gehad wat groot hoeveelhede kontant in die besigheid kon inploeg nie. “Venfin is ‘n winsgewende maatskappy met wesenlike kontantbronne en kan die nodige finansiële inspuiting aan e.tv gee wat ander aandeelhouers nie kan doen nie.” Die televisiekanaal ly op die oomblik steeds verliese, maar daar word verwag dat die groep teen Mei vanjaar ‘n positiewe kontantvloei sal hê. Icasa se beslissing bring mee dat Venfin ‘n belang van 29,5% in Midi-TV kan verkry deur ‘n lening van R281,8 miljoen aan Sabido, Midi-TV se beherende aandeelhoulhouer, en ‘n lening van R38,6 miljoen aan “Hosken” Consolidated Investments (HCI), in gewone aandele om te skakel. Venfin se belang is in werklikheid 33% nadat verskeie minderheidsaandeelhouers nie sekere opsies uitgeoefen het nie.

Source: Volksblad – Ryk van Niekerk