KAAPSTAD. — ‘n Vaste aanbod van R270 miljoen vir die Golden Arrow Busdienste deur die genoteerde maatskappy Hosken Consolidated Investments (HCI) — wat ‘n beherende belang in e.tv besit — en sy filiaal Mettle, gaan dalk in die hof draai. Die vakbond Cosatu, wat onderhandel namens werkers wat die busdiens wil koop, wil ‘n interdik kry om die verkoop van die maatskappy te stop. Die werkers het ‘n teenaanbod gemaak van dieselfde waarde as HCI en Mettle s’n. Die vakbond meen dat die werkers se voorkoopsreg sterk tel vanweë ‘n belang wat hulle in die maatskappy hou. Golden Arrow Busdienste het gister in ‘n verklaring gesê ‘n vaste aanbod is van HCI en Mettle gekry. Die direksie het die aanbod oorweeg en beveel aan dat sy aandeelhouers dit aanvaar. Blykbaar het die direksie en trustees van die twee aandeelhouers, die beheermaatskappy Golden Arrow Investment Holdings, en ‘n gemeenskapstrust, die Golden Arrow Stigting, wat elk 50% hou, dit reeds goedgekeur. Volgens mnr. Tony Ehrenreich,streekhoof van die vakverbond Cosatu in die Wes-Kaap, gaan ‘n interdik juis gesoek word op die gronde dat die direkteur wat die werkers op die direksie van die beheermaatskappy verteenwoordig, nie by magte is om namens die werkers tot die verkoop van die maatskappy in te stem nie. Die HCI-aanbod beteken dat al die aandele in die busdienste gekoop sal word, ook dié van die werkers wat in die beheermaatskappy gehou word. Die twee aandeelhouers sal dieselfde waarde vir hul aandele kry. Ingevolge die aanbod, sal die maatskappy in sy huidige vorm bedryf word en die bestaande werksvoorwaardes sal in plek bly. Die busdienste verwag dat die aanbod binnekort op die beheermaatskappy se jaarvergadering goedgekeur sal word. Die direksie het ook die aanbod van die werkers oorweeg. “Gegewe dat niks konkreet van hulle ontvang is nie, het die direksie besluit om nie die positiewe aanbod van HCI en Mettle, wat met hul finansiële hulpbronne en onberispelike getuigskrif van bemagtiging duidelik aandeelhouers van Golden Arrow se langtermynbelange dien, te verwerp nie.”

Source: Die Burger – Nellie Brand