HCI WIL 20% BELANG IN SOFTLINE ONTBONDEL
- May 8, 1999
- Posted by: admin
- Category: Historical Investments
KAAPSTAD. Softline het gister bekend gemaak dat die bemagtigingskonsortium Hosken Consolidated Investments (HCI) sy belang van 20% in Softline gaan ontbondel.
Die inligtingsgroep sê HCI beplan om sowat 71 miljoen Softline aandele van sowat R560,9 miljoen, gebaseer op gister se sluitingsprys van 790c, aan sy aandeelhouers te ontbondel.
Volgens ‘n verklaring wat deur Softline uitgereik is, beplan ‘n konsortium wat gelei word deur mnre. Ivan Epstein en Steven Cohen, onderskeidelik uitvoerende hoof en hoof finansiële beampte van Softline, om ‘n kontantaanbod aan die HCI aandeelhouers wat die Softline aandele deur die ontbondeling gaan ontvang, te doen.
Die Mineworkers Investment Company en Sactwu Investments Group, wat saam sowat 50% in HCI hou, het egter gesê hulle sal nie ná die ontbondeling hul aandele in Softline verkoop nie. HCI het in die laaste paar weke verskeie disinvesterings gedoen in ‘n poging om sy skuld te konsolideer en verdere oornames te fasiliteer. Hy het verlede maand sy belang van 7% in Datatec vir sowat R650 miljoen verkoop.
Source: Die Burger